|
 |
 |
| Mev. Madelyn van Wyk
Hoof
Gr. R |
Mev. Emsie Lloyd Graadhoof Gr. 1 |
|
 |
 |
|
Mev.
Phialetta de Beer Graadhoof Gr. 2 |
Mev.
Louise de Wet Graadhoof Gr. 3 |
Die grondslagfase by Fichardtpark Primêr beskik oor ‘n professionele toegeruste Graad R afdeling. Die Graad R afdeling beskik oor eie akademiese en administratiewe personeel wat onafhanklik funksioneer. Die Graad R leerders is genestel in ‘n veilige en geborge omgewing en word stelselmatig aan die groter akademiese milieu blootgestel.
Geïntegreerde en gekoördineerde leerprogramme berei die Graad R leerder vir die formele onderrigsituasie voor. Die ondersteuningsdienste van die skool lewer gespesialiseerde diens en terapeute word vroegtydig betrek om die leerders geleenthede te bied om individueel te ontwikkel en leervaardighede volgens hul eie unieke vermoëns te bemeester.
AANVANGSONDERRIGPROGRAM
Die werk in Graad 1
neem 'n aanvang met 'n skoolgereedheidsprogram wat ongeveer 6 tot 8 weke
duur. Aan die einde van die eerste kwartaal kry die beginners 'n
verslag. Die skoolbeginner word by ‘n aanvangs-onderrigprogram ingeskakel om sodoende die ontwikkelingsvlak van elke leerder te bepaal. Die inligting weerspieël spesiale aanlegte en leemtes waarvolgens die leerders gedifferensieerde onderrig ontvang. Die vroeë identifisering van moontlike leemtes en die inskakeling by ‘n didaktiese hulpverleningsprogram is baie suksesvol en agterstande word vinnig uitgeskakel. In Graad 2 en Graad 3 word die aanvangsleemtes steeds gemonitor en ‘n voortgesette program word gevolg.
Fichardtpark Primêr het welslae met die implementering van Kurrikulum 2005 behaal en is ‘n skool wat leiding in die proses neem. Leersteunmateriaal is hoofsaaklik by die skool ontwikkel en die drie leerareas, naamlik Geletterdheid, Gesyferdheid en Lewensvaardighede word geïntegreerd met die ander leerareas aangebied.
GELETTERDHEID
Die Leesontwikkeling geniet hoë prioriteit en interessante uitstappies, uitstallings, besprekings en aanbiedings prikkel kreatiewe en ondersoekende denke. Alhoewel ‘n bekende leesreeks gebruik word, is interessante en geïntegreerde temas ingebou. In Graad 1 het die leerders die geleentheid om hul leesvermoë self te verbeter deur middel van ‘n leeslaboratorium, wat uit gegradeerde leeskaarte rakende ‘n bepaalde tema bestaan. Die tematiese benadering is stimulerend en die leerders vorder flink en lees spontaan informele leesboeke teen die einde van die jaar. In Graad 2 word die tematiese benadering geïntegreerd met ander vakke aangebied. Uitdagings tydens klasbesprekings, begriplees en kreatiewe skryfwerk moedig die leerders tot verdere prestasie aan. Die leesstof is uitgebrei en leerders word baie aan informele leeswerk blootgestel. Algemene kennis, woordeskat en taalvaardighede word maksimaal ontwikkel. In Graad 3 word die leeskultuur verder uitgebrei. Eenvoudige naslaanopdragte, waartydens leerders self inligting moet versamel, bevorder die leesproses. Die sifting van relevante inligting en eie weergawe van informele leeswerk berei die leerders outomaties voor vir tegnieke wat in studiemetodes gevolg word.
GESYFERDHEID
Die Probleemgesentreerde Benadering strek elke leerder tot voordeel deurdat unieke gawes en vermoëns ontwikkel word. Die leerder vorder teen sy/haar eie tempo en rekenstrategieë word volgens die denkvlakontwikkeling toegepas. Die groeponderrigsituasie bied by uitstek geleentheid vir differensiasie. Die leerder reageer baie positief teenoor gesyferdheid. Goeie selfbeeld, puik redenasievermoë en verrassende oplossingstegnieke kenmerk die benadering. Gesyferdheid word as ‘n gunsteling vak beleef, omdat leerders die uitdagings en metodiek geniet.
LEWENSVAARDIGHEDE
Hierdie leerarea ontwikkel die leerder se groepsverantwoordelikheid, leierskapeienskappe, redenasievermoë, sosiale interaksie, positiewe werkshouding, gesonde deelname en samewerking, konfklikhantering, ens. Uitkomsgerigte onderwys is gerig op die vorming van lewenswaardes om verantwoordelike, gedissiplineerde landsburgers op te lei.
Die geestelike en kulturele waardes is eie aan die skoolgemeenskap en godsdienstige beginsels word as ‘n leefwyse beoefen.
ASSESSERING
Die hoofklem is die ontwikkeling van vaardighede en leerders vorder teen hul eie tempo en volgens bepaalde unieke vermoëns.
Die Grondslagfase funksioneer as ‘n eenheid en spanpogings en noue samewerking is kenmerkende eienskappe van die personeelkorps. Die primêre doelwit is maksimale ontwikkeling van elke leerder. |