Graad R Skoolreëls en Algemene Inligting

Graad R Skoolreëls en Algemene Inligting

1. Toelating en bywoning

1.1 Ouers word versoek om hul kleuters nie sonder ‘n grondige rede uit die skool te hou nie. Indien ‘n kleuter langer as twee skooldae afwesig was, moet die hoof onverwyld in kennis gestel word.

1.2 Na ‘n afwesigheid van tien (10) skooldae word ‘n kleuter van die rol geskrap, tensy die hoof skriftelik in kennis gestel word.

2. Aankoms en vertrek

2.1 Gedurende die eerste twee kwartale van die jaar, word kleuters soggens tot by hulle klasse vergesel. Wanneer die kleuter met ‘n personeellid kontak gemaak het, mag die persoon groet en vertrek. Geen kleuter mag gedurende die eerste twee kwartale by die voorste hek gelos word nie.

2.2 Die amptelike skoolure is van 7:30 tot 12:30. Vir die gerief van werkende ouers, sal kleuters vanaf 06:45 ontvang word en die oggendkleuters moet teen 13:30 afgehaal word. Geen kleuter mag voor 06:45 op die perseel wees nie.

2.3 Die personeellid wat oopsluit ontvang die kleuters tussen 06:45 en 07:30 buite. Indien die weer dit egter nie toelaat nie, word die kleuters ontvang in die Bereklas.

2.4 Kleuters wat slegs in die oggend die skool bywoon, mag nie later as 13:30 afgehaal word nie. Die gevoel is dat ouers reeds ‘n uur speling het vandat die opvoedkundige program eindig om 12:30. Indien u u kleuter dus na 13:30 kom afhaal, al is dit net 5 minute, betaal u die fooi wat ouers betaal vir middagsorg kuiermaatjies.

2.5 Buitemuurs word ook by die skool aangebied op versoek van die ouers. Die spesifieke buitemuurs, asook op watter dae en hoe laat sal vroeg in die nuwe jaar vir die ouers deurgegee word.

2.6 Middagsorg is ook beskikbaar en tree in werking vanaf 13:00 tot 17:15. Etes word nie verskaf nie, maar daar is ‘n yskas om die kos in te bêre en ‘n mikrogolfoond om die kos warm te maak.
2.7 Kleuters mag nie sonder ‘n grondige rede laat by die skool aankom nie, aangesien oggendkontak ‘n belangrike deel van die program is.

2.8 Die voorste hek word om 07:25 gesluit. U moet u kleuter dus betyds bring, sodat u om 07:25 reeds van die terrein af is.

2.9 Siek kleuters mag nie skool toe gestuur word nie. ‘n Kleuter wat nie mag buite speel nie, is te siek om skool toe te kom.

2.10 Indien ‘n kleuter om een of ander rede vroeër by die skool gehaal moet word moet u die kantoor, graadhoof of die betrokke onderwyseres vooraf inlig.

2.11 Indien enige iemand anders behalwe die ouers die kleuter by die skool kom afhaal moet die kantoor of betrokke onderwyseres daaroor ingelig word. Geen kleuter sal aan ‘n vreemdeling gegee word, alvorens dit met die ouers uitgesorteer is nie. Daar is ‘n wit skryfbord teen die kantoor se deur, waar u die inligting moet neerskryf.

2.12 U moet u kleuter binne die terrein kom afhaal sodat ‘n personeellid kan sien wanneer u kleuter huis toe gaan. Kleuters mag nie alleen na die hek toe beweeg nie, anders is daar nie kontrole oor wie huis toe gaan en saam met wie hulle gaan nie.

2.13 Die voorste hekke werk met ‘n kode, wat aan u deurgegee sal word aan die begin van die jaar. Die agterste hekke is slegs vir die personeel se gebruik. Ouers mag nie van die hek gebruik maak nie.

3. GELDE

3.1 Skoolgelde en middagsorggelde sal elke jaar na die Begrotingsvergadering aan u deurgegee word.

3.2 Ouers wat van voorneme is om hulle kleuters uit die skool of Middagsorg te haal, moet een kalendermaand skriftelik kennis gee. Geen gelde is terugbetaalbaar nie. Dit MOET ook deurgegee word aan die Primêre Skool se Finansiële Afdeling.

3.3 Geen korting word toegestaan aan kleuters wat vir ‘n gedeelte van die kwartaal afwesig is nie.

3.4 Geen skoolgelde is by die Graad R Afdeling betaalbaar nie. Dit moet by die Primêre Skool betaal word.

3.5 Alle ander kontantgelde moet in die boek in die kantoor geskryf word en dan in die regte geldbussie gegooi word. Dit mag nie vir ‘n personeellid gegee word nie. U plaas die korrekte bedrag in ‘n koevert. Bo-op skryf u die bedrag, waarvoor dit is en u kleuter se naam.

4. KLEREDRAG

4.1 Lekker gemaklike selfhelp klere is noodsaaklik. In die somer is kaalvoet loop verkieslik.

4.2 Klere wat moontlik uitgetrek gaan word bv. baadjies en truie, moet asseblief gemerk wees. Veral handskoene is ‘n groot probleem in die winter.

4.3 Gedurende spel word kleuters vuil, anders kan hulle nie met volle oorgawe speel nie. Moet dus nie van u kleuter verwag om silwerskoon tuis te kom nie. Lig asseblief ook u bediende hieroor in. Verkieslik moet hulle klere aantrek waarvoor hulle nie jammer hoef te wees nie.

4.4 Juwele, soos bv. krale, groot oorbelle of kettinkies asook horlosies is ontoelaatbaar. Kleuters raak hartseer as dit verloor.

4.5 Hardesool hoëhak skoentjies vir dogtertjies is ‘n euwel. Hulle kan glad nie hulle dag geniet en rond beweeg of op die apparate speel nie.

4.6 Tatoeëermerke is nie toelaatbaar nie – ook nie die plakkers nie.

4.7 Hare: Seuntjies se hare moet asb. kort en netjies wees, soos in die Primêre Skool. Dogtertjies se hare moet asb. vasgemaak word.
Geen moderne haarstyle is toelaatbaar nie.

4.8 Verlore klere sal in die binnestoor, tussen die Leeuklas en Olifantklas, gebêre word. Sodra u iets vermis, kan u net by een van die personeellede navraag doen.

4.9 Indien die weer dit toelaat, moet die kleuters met alle uitstappies hulle Fichie-hempies en broekies aantrek vir eenvormigheid. Dit word ook aangetrek gedurende die kleuters se sportperiode. Die spesifieke dag waarop u kleuter sport het, sal vroeg in die jaar vir u deurgegee word.

4.10 Gedurende die wintersmaande, trek die kleuters ‘n navy blou Drimac-baadjie aan saam met ‘n blou denim. Die reëlings rondom dit sal ook vroeg in die jaar aan u deurgegee word.

5. PROGRAMME

5.1 Ouers word versoek om nie die kleuterprogram te onderbreek wanneer hulle hulle kleuter(s) vroeër kom haal nie. Indien u kleuter se klas se deur toe is, moet u verkieslik by die kantoor aanmeld. Die toe deur beteken dat die juffrou nie nou gesteur mag word nie. Al het u dit gereël, meld maar liewers aan sodat die sekretaresse u behulpsaam kan wees.

5.2 In belang van ‘n deurlopende kleuterprogram moet alle kleuters om 07:25 by die skool wees, sodat u kleuter genoeg tyd het om bv. die tassie te bêre en weer uit te beweeg voordat die klokkies lui.

Gedurende die eerste “periode” van die dag, word die Weerkaart behandel, terwyl die skeppende aktiwiteite dan aan die kleuters verduidelik word. Dit is dus vir u kleuter baie belangrik om in te skakel by die deel van die program. Indien u laat is, laat u kleuter asb. by die kantoor by die sekretaresse. Sodra die deur weer oopgaan, sal sy u kleuter na sy/haar klas neem. Dit is baie steurend as die groep besig is met gebed en die deur gaan oop.

6. VAKANSIES

6.1 Die skool sluit gedurende die vakansies en Publieke Vakansiedae.

6.2 Wanneer die skool vir vakansies sluit, mag geen oggendkleuters na 10:00 op die perseel wees nie. Middagkleuters mag nie later as 17:15 op die perseel wees nie.

7. SKOOLFUNKSIES EN VERGADERINGS

7.1 Die skool tree vir ‘n groot gedeelte van die dag aanvullend op tot die ouerhuis. Dit word dus in belang van die kleuter van u as ouers verwag om skoolaktiwiteite te ondersteun en op hierdie wyse op hoogte te bly van alle nuwe verwikkelinge.

7.2 Tydens oueraande word onder andere ook opvoedkundige aangeleenthede bespreek. Aanbevelings word gedoen oor probleme wat ouers tuis met hulle kleuters mag ondervind. Bywoning van sulke geleenthede is dus noodsaaklik.

8. PERSONEEL

8.1 Die onderwyseresse en assistente mag nie gedurende programtye gesteur word nie. Indien u navraag wil doen by die onderwyseres oor aangeleenthede aangaande u kleuter, moet u asseblief vooraf met die betrokke onderwyseres vir ‘n onderhoud reël.

8.2 Telefoniese boodskappe kan by die sekretaresse gelaat word vir verdere opvolging deur die personeel. Die personeel word nie gedurende programtye van hulle groepe weggeroep nie.

8.3 Die personeel mag glad nie hulle selfone gedurende skoolure gebruik nie. Dit help dus nie u stuur ‘n sms of bel op die fone nie. Slegs die kantoor en die Graadhoof se foon is gedurende die oggende beskikbaar. Maak asb. van dit gebruik.

8.4 Enige navrae in verband met u kleuter of ander skoolaangeleenthede moet slegs met die hoof of betrokke onderwyseres bespreek word.

9. ALGEMEEN

9.1 Veranderings van adres of telefoonnommers moet asseblief dadelik by die kantoor aangemeld word.

9.2 Geen speelgoed mag saam skool toe gebring word nie. Speelgoed wat skooltoe gebring word skep geweldige probleme ten opsigte van speelbeurte asook die bewaring daarvan. Die personeel aanvaar geen verantwoordelikheid vir kleuters se eie speelgoed nie.

9.3 Wanneer u vind dat ‘n opvoedkundige stukkie apparaat of ‘n speelding wat aan die skool behoort, tuis beland het, moet u dit asseblief dadelik aan die skool terugstuur. Dit mag net ‘n belangrike onvervangbare deeltjie wees. Dit is nie ‘n aanklag teen u kleuter wanneer hy/sy iets saamneem huis toe nie – hulle is nog klein en weet nog nie dat dit verkeerd is nie.

9.4 Kleuters mag daagliks slegs ‘n toebroodjie en/of vrug asook ‘n sappie of koeldrank (nie gaskoeldrank) saambring skool toe. Gesonde kossies soos provitas, kasies en soutkoekies is ook toelaatbaar. Geen lekkers, koekies of ander lekkernye is toelaatbaar nie. Dit sal weggevat word. MERK ASSEBLIEF DIE TOEBROODJIEHOUERS EN BOTTELTJIES BAIE DUIDELIK. SNY OOK ASB. DIE BROODJIES IN 4 KWARTE. Vrugte sal by die skool gesny word.

9.5 Ouers moet asseblief nie te veel kos insit nie, aangesien dit wat die kleuter nie wil eet nie, nie weer teruggestuur word huis toe nie. Bogenoemde reëling is ingestel a.g.v. verskeie probleme wat by die skool ondervind word.

9.6 Spesiale eetgoed kan egter gestuur word wanneer ‘n kleuter verjaar. Reël dit net vooraf met die onderwyseres.

9.7 Ons beplan uitstappies per kwartaal. Ons sal gedurende die eerste week van die kwartaal dit vir u deurgee. Onthou dan asb. dat u kleuter sy/haar skoolhempie en –broekie of die baadjie en denim moet aantrek. Geen ouers word toegelaat om uitstappies mee te maak nie.

9.8 Geen medikasie word deur personeel aan kleuters gegee nie – ‘n kleuter wat deur die loop van die oggend medikasie moet kry is te siek om die skool te geniet en moet liefs tuis gehou word. Ons kan ook nie kort-kort ‘n salfie aansmeer nie.

Voldag kleuters mag wel medisyne skool toe bring. Dit moet egter aan ‘n personeellid oorhandig word met die nodige voorskrifte. Indien dit voorskrif medisyne is, MOET u ‘n afskrif van die voorskrif saam skool toe stuur. Dit sal dan in u kleuter se leêr geliaseer word. Geen kleuter mag medisyne van enige aard, bv. keelseertablette, disprins ens. in sy tassie hê nie.

9.9 Geen gaste (familie wat kom kuier of vriende van u kleuter) mag die skool saam met u kleuter besoek nie.

9.10 Briewe: U kleuter ontvang elke Vrydag ‘n brief vanaf die Gr R afdeling asook ‘n weekbrief vanaf die Primêre Skool.

Die Primêre Skool se weekbrief word slegs uitgedeel aan kleuters wie die oudste of enigste kind in die skool is. Indien u kleuter dus ‘n ouer boetie of sussie in die Primêre Skool het, sal die ouer kind dit ontvang, nie u kleuter nie.

ALLE Graad R ouers sal egter ‘n Graad R brief ontvang.

Die Graad R brief is ook op die volgende plekke beskikbaar:

• U kan ook albei die briewe op die skool se web-adres lees. Dit is www.fichies.co.za.

• Die skool maak ook gebruik van die “Communicator”. Gedurende die eerste week van die Eerste Kwartaal, sal u ingelig word oor hoe om die program vanaf die internet te laai.

• Ons kan ook die weekbrief van die Primêre Skool, asook Gr R se weekbrief, elke Vrydag aan u e-pos. Dit sal ook vroeg in die jaar aan u deurgegee word.

Indien u kleuter nie op ‘n Vrydag by die skool is nie, is dit u verantwoordelikheid om die skool te bel en seker te maak van die inhoud van die brief. U kan ook die brief kom afhaal by die skool.

Hierdie reëls is saamgestel alleenlik in die belang van u kleuter en vir die suksesvolle verloop van die kleuterprogram. Ons vertrou dus op u heelhartige samewerking. Ouers is enige tyd welkom om met die hoof of die groeponderwyseresse oor hulle kleuter te gesels. Afsprake kan met die betrokke onderwyseres gereël word na 14:00 in die middae.

Mag u kleuter se verblyf by ons baie aangenaam wees en mag dit ook tot verryking van u as ouers dien.

MADELYN VAN WYK
GRAADHOOF

Laai af hier