Krieket

Fichardtpark Primêre Skool bied krieket aan.
Meer inligting is beskikbaar in die Fichardtpark Primêre Skool dagboekie

Krieket is ‘n sportsoort waar jongmense vaardighede soos werksetiek, deursettingsvermoë, spanwerk, integriteit en nog vele meer kan leer en ontwikkel. Fichies se krieket is op ‘n hoë standaard en die spelers geniet die spel baie.

PROEWE

Gedurende die eerste kwartaal het proewe in al die ouderdomsgroepe plaasgevind. A- en B-spanne is gekies om aan die onderskeie ligawedstryde deel te neem. Die o.9- ouderdomsgroep was die enigste ouderdomsgroep wat ‘n C-span gehad het.

 

Fichies Krieket

Fichies se graad 1-spannetjies het gedurende die eerste en vierde kwartaal geleentheid gekry om aan mini-krieket deel te neem. Behalwe dat daar op grootmotoriese ontwikkeling, hand-oog-koördinasie en ander vaardighede gefokus word, het die spelertjies dit terdeë geniet. Gedurende die Septembervakansie het die o.11A-span deelgeneem aan Universitas se kriekettoernooi. Gedurende die eerste naweek van die vierde kwartaal, het die o.13A-span aan Universitas se kriekettoernooi deelgeneem. Al die ouderdomsgroepe het in die vierde kwartaal aan die ligawedstryde deelgeneem. Die o.11A- en o.13A-span het ook aan Willem Postma se aandliga deelgeneem. Die meisies o.13 krieketspan het ongelukkig geen ligawedstryde gespeel nie. Alhoewel daar ligabepalings was, kon die ander 3 skole ongelukkig nie speel nie. Daar was wel ‘n vriendskaplike wedstryd gereël teen Tjokkies waar die dogters die geleentheid gehad het om teen ander dogters te speel. Tjokkies het nie genoeg dogters gehad om ‘n volle span te maak nie, so Fichie-dogters het nou en dan uitgehelp met veldwerk. Geen telling is gehou nie, aangesien dit ‘n vriendskaplike wedstryd was.

Die A-veld se kolfblad is aan die begin van die jaar oorgedoen. Nuwe kolfbladseile is aangekoop om die kolfblad tydens reëndae te bedek en grenstoue is aangekoop om die wedstrydveld meer volledig te laat lyk. Daar is ook skadunette by die krieketnette opgesit. Wilhelm Bester en Nathan Nel het vanjaar die dogterskrieket afgerig. Alhoewel daar geen wedstryde was nie, lyk Fichies se dogterskrieketspan belowend. Dié span groei jaarliks en vanjaar het 18 dogters krieket geoefen. Slegs Fichies, Rocklands en Botshabelo HUB het ‘n volle dogterskrieketspan.

Prestasies:

  • Seunskrieket: Twee seuns is in MMC-spanne ingesluit is. Jandré Vermeulen by die o. 11’s en Divan Kleyn by die o. 13’s. Jandré Vermeulen is ook gekies vir die o.11 Vrystaat-krieketspan.

  • Dogterskrieket: Twee dogters, naamlik Divashnee Claassen en Leja Lourens, is vir die MMC-dogterspan gekies.