Landloop

Fichardtpark Primêre Skool bied landloop aan.
Meer inligting is beskikbaar in die Fichardtpark Primêre Skool dagboekie

Voor elke Vrydag se Landloop-ligabyeenkomste wag hordes opgewonde Fichies, geklee in hul kenmerkende blou atletiekdrag, by die wegspringstreep van die Universiteit van die Vrystaat, vir die skoot om te klap.

Tydens elke byeenkoms leer hul nie net van uithou, volharding en waartoe hul liggame instaat is nie, maar kan hulle ook een van hul belangrike Fichie-waardes, nl. Omgee, uitleef.   Hulle kan gebruikte tekkies aan minderbevoorregte atlete skenk.

Fichie Landbou

Gedurende die landloopseisoen  kan leerders kwalifiseer om aan ‘n interprovinsialebyeenkoms, sowel as die Suid-Afrikaanse Landloopkampioenskappe, deel te neem. Talle Fichie-atlete word jaarliks in die Vrystaatspan ingesluit om aan hierdie byeenkomste te gaan deelneem.

Na afloop van elke seisoen, word wenners van die onderskeie ouderdomsgroepe en spankompetisies van die Bloemfontein ligas aangewys. Fichies se naam pryk jaarliks met trots op hierdie uitslae. Vir atlete, wat aan al die ligas deur die seisoen deelgeneem het, word daar jaarliks ‘n spesiale lint toegeken wat ‘n baie gesogte item onder die landlopers geword het.

Alle leerders wat entoesiasties is oor fiksheid, is welkom om by Fichie-landloop aan te sluit. Hier word ‘n gesonde selfbeeld gekweek deur atlete aan te moedig om teen hulself te kompeteer en tydens elke wedloop, beter as die vorige te presteer.

Tydens die landloopseisoen het Fichies 46 geregistreerde landloopatlete gehad.  Sewe ligabyeenkomste is gedurende die seisoen aangebied.  Ons atlete het entoesiasties deelge-neem en goed presteer.

Die volgende atlete het gedurende die landloopseisoen aan al sewe die ligabyeenkomste deelgeneem:  Rehard Britz, Zane Marais, Grant Cloete, Henco Brand, La-Rochelle du Plessis, Verné Britz, Michelle Cilliers en Megan Lee Jordaan.  Tydens die ligabyeenkomste het Mason Jordaan ‘n algehele eerste plek vir sy deelname aan die 2 km vir seuns o/10 behaal en La-Rochelle du Plessis het ‘n algehele eerste plek vir dogters o/10, 2 km behaal.  Mason en La-Rochelle is gekies vir die Vrystaatspan wat op 16 September in Gqeberha aan die Suid-Afrikaanse Landloopkampioenskappe deelgeneem het.  Daar het Mason ‘n vyfde plek behaal en ontvang ‘n goue medalje as lid van die Vrystaat o/10- seunspan wat die wenners van die spankompetisie was.

Tydens die derde kwartaal het ons ‘n landloopkliniek vir ons atlete aangebied.  Dit het tydens twee dae se oefeninge plaasgevind en is gelei deur René Odendaal, ‘n professionele afrigter van die Tempe Tekkies hardloopklub.  Dit was van groot waarde vir die atlete, sowel as die afrigters.  Ons het die landloopseisoen afgesluit met ‘n afsluitingspartytjie in die parkie, waartydens daar lekker geëet en gespeel is.  Ons sien uit daarna om in die toekoms nog vele van hierdie jong, opkomende atlete te ontwikkel.