Fichardtpark Primêre Skool bied netbal aan.
Meer inligting is beskikbaar in die Fichardtpark Primêre Skool dagboekie
Fichies spog met groot netbalprestasies. Vroeg in die jaar sien elke dogter daarna uit om met netbaloefening te begin. Hulle daag in groot getalle op. Ons is trots daarop om elke jaar vier spanne, in elke ouderdomsgroep, in die A-liga in te skryf. Die netbalspeelsters is gemotiveerd om hard te oefen en hul beste te gee tydens wedstryde. Wat Fichie netbal uniek maak, is die gees wat onder die netbalspeelsters heers. Ons poog daarna om ‘n liefde vir netbal by elke kind te kweek en genot te verkaf.
Fichies se netbalspanne vaar jaarliks uitstekend tydens die liga. Die o/12 en 13 A-spanne neem jaarliks deel aan die Motheo uitspeel rondtes en eindig onder die top 3 spanne in Bloemfontein. Ons skool se o/12 en 13 spanne verteenwoordig die skool jaarliks op Vrystaat en Suid-Afrikaanse vlak, wat ʼn uitstekende prestasie is. Die eerste span was die laaste drie jaar deel van die Wilde Klawer Netbaltoernooi, wat jaarliks in Kimberley aangebied word.

Fichies lewer jaarliks ʼn aantal Vrystaatspeelsters op, wat die provinsie op nasionale vlak verteenwoordig. Gertriana Retief ,oud Fichie , verteenwoordig Suid-Afrika op o/21 vlak en verskyn gereeld op televisie.
Fichies se afrigting is van uitstaande gehalte. Elke afrigter werk baie hard saam met hulle spanne en streef daarna om elke kind tot sy volle potensiaal te ontwikkel. Hulle poog daarin om elke wedstryd hul beste te gee. Die afrigters woon jaarliks skeidsregterskursusse. Hierdie skeidsregters is gekwalifiseerd om op Provinsiale en Nasionale kampioenskappe te verteenwoordig.
Van ons afrigters het NSA afrigterskursus vlak 1 en 2 voltooi. Ons afrigters word gereeld gekies om Provinsiale spanne af te rig tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe. Drie van ons personeellede dien op die Motheo netbalkomittee.
Fichies is die eerste skool wat ʼn “Fast 5” netbaltoernooi in Bloemfontein aangebied het. Ons bied jaarliks ‘n o/12 netbaltoernooi aan. Skole van reg oor die Vrystaat neem deel aan die suksesvolle toernooi. Voorwaar is dit ‘n fees om deel van Fichie netbal te wees.
Netbalkamp na Tevah Venue
Die o. 12 A- en B-spanne het gedurende Februariemaand ‘n kamp meegemaak waartydens hul aan spanbou, uithouvermoë, afrigting en taktiek gewerk het.
Netbaltoernooi na Sportisimo in Pretoria
Die o. 13-toerspan, bestaande uit tien dogters, het gedurende Maartmaand vir vier dae na Sportisimo in Pretoria vertrek. Ané Bester, o.13 afrigter, Suné Smit, spanbestuurder en Wilhelm Bester, busbestuurder, het dié toerspan vergesel. Elsje Jordaan was die toernooi-aanbiedster en spanne is gekies. ‘n Goeie spangees het geheers en ons o. 13-span het ook dié toernooi gewen.
Bloemfontein Laerskool Netbaltoernooi
Die o. 10- tot o. 13 A-, B- en C-spanne het in die eerste kwartaal aan dié toernooi deelgeneem en etlike wedstryde gespeel. Dit het bygedra tot die dogters se ontwikkeling en dit was goeie voorbereiding vir die liga. Die o.12 A- en o. 13 A-spanne het dié toernooi in hul onderskeie ouderdomsgroepe gewen.
Willem Postma Aandliga
Die o. 10- tot o. 13 A-, B- en C-spanne het gedurende Februariemaand aan Willem Postma se aandliga deelgeneem en goeie geleentheid gekry om te speel en afrigters kon speelsters rondskuif tussen posisies en die spanne beter saamstel.
Graad 1-netbaldag
‘n Graad 1-netbaldag is gedurende die eerste kwartaal aangebied. Verskeie skole is uitgenooi en die speelsters het dié dag geniet.
Ligawedstryde
Nege skole is deel van ons liga, wedstryde het op verskeie dae plaasgevind en die spanne het goed presteer.
Mangaung Metropolitan Education Distrik Netbaluitspeelrondtes (MMED)
Die o. 12- en o. 13 A-spanne het deurgedring na die MMED-uitspeelrondtes. Die o. 12-span het vierde geëindig en die o. 13-span het ‘n derde plek verower.
Wesgrowliga
Die o. 10- tot o. 13 A- tot D-spanne het aan die Wesgrowliga deelgeneem en goed presteer. Die o. 10A-, 11C-, 12A, 12B-, 13A-, 13B- en 13D-spanne was die algehele wenners van hul onderskeie ouderdomme. Fichies het tydens die Wesgrowliga ‘n algehele eerste plek verower.
Mini-netbal
Die mini-netbalspanne het aan drie mini-netbaltoernooie deelgeneem. Speelsters moes tydens dié toernooie op al sewe posisies speel. Die mini-netbalafrigters doen uitstekende werk. Die skool het een van die mini-netbaldae aangebied en dit was ‘n reuse sukses.
MMED Netbalspanne
-
o. 13 – Jo-Anne van Rooyen, Miané Jordaan en Zilke Eckard
Vrystaat Netbalspan
-
o. 12 – Ané Hoffman, Inca Brand en Tsatsi Feni-Botes
-
o. 13 – Jo-Anne van Rooyen en Miané Jordaan
Miané, Jo-Anne, Tsatsi, Inca en Ané is gekies vir die Vrystaatspanne wat gedurende die Junievakansie tydens die SA kampioenskappe die skool in Boksburg verteenwoordig het. Ané Bester is as afrigter van die o. 12-Vrystaatspan gekies en Mariëtte Leibbrandt as skeidsregter.
Mariëtte Leibbrandt, Danica de Beer en Melisha Botha is as skeidsregters tydens dié Bokkietoernooi gekies.
Netbal Hoops
Ons jaarlikse Fichie “Hoops”-netbaltoernooi het op Vrydag, 29 Augustus, plaasgevind. Skole van regoor die Mangaungdistrik is uitgenooi. Die netbalafrigters, van die damespersoneel, sowel as die MMED-netbalbestuur het as tellinghouers, tafelbeamptes, afrigters, skeidsregters en hekbeamptes opgetree. Dié dag was ‘n reuse sukses en die o. 12 A-span het ‘n eerste plek verower en die o. 13 A-span ‘n tweede plek.
Netbal Vrystaat Hoops
Die o. 13 A-span het aan die Vrystaat Hoopskompetisie deelgeneem en hul het ‘n algehele eerste plek verower.
Netbal SA Hoops
Die o. 13 A-span het gedurende die Septembervakansie aan die SA-Hoops by EG Jansen in Johannesburg deelgeneem en teen agtien skole in Suid-Afrika meegeding. Hulle het uitstekend gevaar en ‘n 12de plek verower. Ons is baie trots op dié span.
Kursusse
Skeidsregterkursusse en graderings het aan die begin van die jaar plaasgevind. Van die afrigters het, gedurende Oktobermaand, ‘n doelkursus bygewoon. Dit is deur Elizé Kotzé, Spar Protea-afrigter, aangebied.


