Netbal

Fichardtpark Primêre Skool bied netbal aan.
Meer inligting is beskikbaar in die Fichardtpark Primêre Skool dagboekie

Fichies spog met groot netbalprestasies. Vroeg in die jaar sien elke dogter daarna uit om met netbaloefening te begin. Hulle daag in groot getalle op. Ons is trots daarop om elke jaar vier spanne, in elke ouderdomsgroep, in die A-liga in te skryf. Die netbalspeelsters is gemotiveerd om hard te oefen en hul beste te gee tydens wedstryde. Wat Fichie netbal uniek maak, is die gees wat onder die netbalspeelsters heers. Ons poog daarna om ‘n liefde vir netbal by elke kind te kweek en genot te verkaf.

Fichies se netbalspanne vaar jaarliks uitstekend tydens die liga. Die o/12 en 13 A-spanne neem jaarliks deel aan die Motheo uitspeel rondtes en eindig onder die top 3 spanne in Bloemfontein. Ons skool se o/12 en 13 spanne verteenwoordig die skool jaarliks op Vrystaat en Suid-Afrikaanse vlak, wat ʼn uitstekende prestasie is. Die eerste span was die laaste drie jaar deel van die Wilde Klawer Netbaltoernooi, wat jaarliks in Kimberley aangebied word.

Fichie Netbal

Fichies lewer jaarliks ʼn aantal Vrystaatspeelsters op, wat die provinsie op nasionale vlak verteenwoordig. Gertriana Retief ,oud Fichie , verteenwoordig Suid-Afrika op o/21 vlak en verskyn gereeld op televisie.

Fichies se afrigting is van uitstaande gehalte. Elke afrigter werk baie hard saam met hulle spanne en streef daarna om elke kind tot sy volle potensiaal te ontwikkel. Hulle poog daarin om elke wedstryd hul beste te gee. Die afrigters woon jaarliks skeidsregterskursusse.  Hierdie skeidsregters is gekwalifiseerd om op Provinsiale en Nasionale kampioenskappe te verteenwoordig.

Van ons afrigters het NSA afrigterskursus vlak 1 en 2 voltooi. Ons afrigters word gereeld gekies om Provinsiale spanne af te rig tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe. Drie van ons personeellede dien op die Motheo netbalkomittee.

Fichies is die eerste skool wat ʼn “Fast 5” netbaltoernooi in Bloemfontein aangebied het. Ons bied jaarliks ‘n o/12 netbaltoernooi aan. Skole van reg oor die Vrystaat neem deel aan die suksesvolle toernooi. Voorwaar is dit ‘n fees om deel van Fichie netbal te wees.

o/13 Netbaltoer na Jacobsdal

Die toer was baie sinvol en goeie vaardigheidsoefeninge is aangeleer en voldoende kompetisiegeleenthede het plaasgevind. ‘n Baie leersame kursus is gedurende dié toer aangebied en talle wedstryde is gespeel.

Netbaltoer na Sun City

Die o/12- en o/13-toerspanne het gedurende Maartmaand vir vyf dae na Sun City vertrek.  Twintig van ons dogters het saamgegaan, asook die afrigters, Teresa Schnetler (o/ 13 afrigter), Chantél Stone (spanbestuurder), Mariëtte Leibbrandt (o/12 afrigter), Nelmari du Toit (spanbestuurder) en Hennie Botha (busbestuurder).  Die spelers het dadelik begin met ‘n uitstekende kursus wat deur Dorette Badenhorst, voormalige Protea- afrigter, aangebied is. Vir drie dae het die spelers afrigting ontvang en daarna is wedstryde vir vaslegging gespeel.  Daar was ook tyd om Sun City te verken.  Spelers het gratis toegang tot Valley of Waves gehad en heerlike draairoomyse daar geniet.  Elke speler en personeellid het tydens dié toernooi ‘n stel netbaltekkies ontvang.

 Bloemfontein Laer-netbaltoernooi 

Ons o/10- tot o/13 A- en B-spanne het aan die einde van die eerste kwartaal aan dié toernooi deelgeneem. Die spanne het baie wedstryde gespeel en die speelsters het baie ontwikkel.  Dit was ‘n goeie voorbereiding vir die ligawedstyde wat voorgelê het. Die o/13 A-span het hul afdeling gewen.

Ligawedstryde

Daar was vanjaar nege skole in ons liga en wedstryde het op verskeie dae plaasgevind.   Ons skool het ook aan die Wesgrowliga deelgeneem en spanne het goed presteer.

Motheo-netbalspanne

  • o/12 – Meandri Rautenbach en Kaitlin Luyt
  • o/13 – Marcha Fivaz, Dioné van Deventer en Cara Hoffman

Vrystaat-netbalspan 

o/13 – Marcha Fivaz

Marcha is gekies vir die Vrystaatspan en het in Boksburg, tydens die SA kampioenskappe, gedurende die Junievakansie, die provinsie verteenwoordig.

Vrystaat Bokkiespan, Wintersweek

o/13 Bokkiespan:  Nicole van der Berg, Mienke van der Berg, Dioné van Deventer en Liani Brönner.  Dioné is as die beste verdediger van die toernooi aangewys en Liani is vir die Nasionale Steenbokkiespan gekies. ‘n Uitstekende prestasie, baie geluk.

Vrystaat Bokkiespan, Somersweek

Mienke van der Berg en Dioné van Deventer is vir die span gekies en hulle het eerste in die toerrnooi geëindig.  Baie geluk, meisies.

Motheo-netbal uitspeelwedstryde

Die o/12- en o/13 A-spanne het deurgedring na die Motheo-uitspeelrondtes. Die o/12-span het tweede geëindig en die o/13-span het ‘n derde plek verower. Albei spanne het deurge-dring na die Vrystaatkampioenskappe.

Vrystaatkampioenskappe

Dié kampioenskappe het in Odendaalsrus plaasgevind. Teresa Schnetler, o/13-afrigter, Chantél Stone, spanbestuurder, Mariëtte Leibbrandt, o/12-afrigter, Nelmari du Toit, spanbe-stuurder en Casper Bouwer, busbestuurder het die spanne vergesel. Ons spanne het uitstekend gevaar. Die o/12-span het vierde en die o/13-span het vyfde geëindig.

Fast 5 Netbal

Ons jaarlikse “Fichies Fast Five” netbaltoernooi het op Vrydag, 1 September, plaasgevind. Skole van regoor die Vrystaat is uitgenooi. Spanne van Bloemfontein, Touwsrivier en Zastron het deelgeneem. Ons het onder die spreiligte gespeel en dit was ‘n groot ondervinding vir al die spelers.  Al ons skool se netbalafrigters en van die damespersoneel, het die dag as tellinghouers, tafelbeamptes, afrigters en skeidsregters opgetree. Die dag was ‘n reuse sukses as gevolg van dié spanpoging.  Ons eerste span het die o/13-toernooi gewen en die o/12A-span het ‘n tweede plek verower.

Kursusse

Skeidsregterkursusse en graderings het aan die begin van die jaar plaasgevind.

Afrigtingskursusse:

  • Mary-Anne Goeieman (afrigters en spelers)
  • Elize Kotzé (Voormalige Spar Protea-afrigter en verdedigingsspesialis) – slegs vir afrigters