Welpie skoolkoerant

Meer inligting is beskikbaar in die Fichardtpark Primêre Skool dagboekie

welpiesDie Welpie skoolkoerant is een van ons skool se spogprodukte. Tydens die jaarlikse Media24 Ons Kan skoolkoerantkompetisie behaal Die Welpie ‘n algehele vyfde plek landswyd vir laerskole. Die koerant bevat nuus van die hele skoolgemeenskap, van die Welpies, die skool se eie kleuterskool, tot by die graad 7 leerders. Oud-leerders wat goed presteer pryk ook gereeld in die koerant. Daar word jaarliks twee uitgawes van Die Welpie uitgereik. Die eerste uitgawe word in Junie-maand uitgereik en die tweede uitgawe in November-maand. Die koerant bestaan uit 12 A3 glansbladsye. Die hele koerant word sedert 2017, wat die skool se 40ste bestaansjaar was, in volkleur gedruk.

Die redaksie bestaan uit leerders in graad 6 en 7, asook vier onderwyseresse. Twee onderwyseresse help met die opleiding, beplanning, proeflees en uitleg van die koerant. Een onderwyseres doen proeflees en ‘n ander slegs die advertensies. Die opleiding van die redaksielede word deur die betrokke onderwyseresse behartig in die vorm van ‘n kort kursus. Die skoolkoerantkursus van Media24 is ook in die beplanning vir die redaksielede. Die redakteur / redaktrise, asook die sub-redakteur / sub-redaktrise, word uit die vorige jaar se redaksielede gekies. Dus word daar elke jaar juis graad 6 leerders verkies om hierdie rolle te vervul die volgende jaar. Die berigte word eweredig versprei tussen die redaksielede, maar die redakteur / redaktrise en sub-redakteur / -redaktrise kry gewoonlik meer berigte om te skryf. Die redaksielede moet sover moontlik vir hul eie foto’s vir hul berigte sorg, of hul kan reël dat daar spesifieke foto’s deur iemand geneem word.

Advertensies kan in die koerant geplaas word. Geen advertensies verskyn op die voorblad nie, maar wel op die agterblad en binneblaaie. Besighede en individue kry baie goeie blootstelling, aangesien daar 1000 koerante gedruk word. Hierdie koerante word aan elke ouerhuis van die skool gegee.