Die Marius Kriel Bibleeuteek is funksioneel en graad 3- tot 7-leerlinge het een periode ‘n week waarin hulle na die biblioteek gaan en ‘n boek kan uitneem vir die week. Die meeste leerlinge sien baie uit na hierdie periode, veral die graad 3-leerlinge. ‘n Woord van dank aan die beheerliggaam vir die bedrag bewillig vir die aankoop van boeke. Fichies is bevoorreg om die nuutste boeke op die mark op die biblioteekrakke te hê. Tweedehandse boeke, of selfs nuwe boeke, word teen baie billike pryse aangekoop.
Ons vertrou dat ons kan voortbou om ‘n leeskultuur by leerlinge te vestig. Boeke neem kinders op ryke verbeeldingsvlugte, verbreed hul kennis en rus hul toe vir die vele uitdagings wat die lewe bied. Dit is belangrik dat ouers leesvaardighede deel van hulle kinders se daaglikse roetine maak, deur byvoorbeeld die dag met ‘n lekker storie af te sluit. Om vir jou kinders boek te lees, is heerlike gesinstyd en om hul liefde vir lees aan te moedig, is van onskatbare waarde. Walt Disney, die vader van kinderrolprente, het die waarde van boeke soos volg opgesom: “’n Storieboek het baie meer skatte as enige eiland wat seerowers nog opgespoor het.”


